Kersfees 2006
'n Baie tipiese manier hoe Suid-Afrikaners in Bangkok Kersfees vier. Hier is die Wards by ons oukeraand-braai op ons stoep.
'n Baie tipiese manier hoe Suid-Afrikaners in Bangkok Kersfees vier. Hier is die Wards by ons oukeraand-braai op ons stoep.
Daar was nogal heelwat van die buurt se mense wat na ons opelug Kersprogram kom kyk het. Hier het ons onder andere 'n rooi skaap op die verhoog. Ons het darem ander rolle ook gespeel en Nerina het by die geleentheid 'n Thai Kerslied gesing. Die hoogtepunt was 'n baie goeie getuienis deur Adjaan Manot.
Cobus het nogal 'n belangstelling in fotografie ontwikkel en hierdie foto het hy van homself geneem nadat hy die "timer" funksie ontdek het. My kamera is darem nog heel.
Weet iemand dalk wat is 'n "retreat" in Afrikaans?
Vanaand het die buurt se kinders hier rondgery en sing aan 'n nuwe Engelse liedjie wat hulle by die buurt se "English Club" geleer het. Hulle het ook van 'n God geleer wat die aarde gemaak het, 'n groot vloed en 'n storm wat stil beveel is.
![]()
Groot opgewondenheid met Heelna Nieuwoudt, Tertia, Gerhard en Ingrid wat hier by ons kuier vannaand. More vertrek ons op 'n Kanok Bannasan kamp en hulle vertek terug na Suid-Afrika na 'n gebedstoer hier in Thailand.
Ons is vanoggend almal na Sawanapoem, Bangkok se splinternuwe internasionale lughawe, om vir Marna te gaan afsien. Sy is Thailand se afgevaardigde by 'n vierjaarlikse TCK konsultasie in Singapoer. TCK = Third Culture Kid en ons het twee van hulle in ons huis. Dink maar aan die enkel ouer wat hierdie week super-pa moet wees. Dit voel baie lank voor volgende Saterdag wanneer ons haar weer terug verwag.
Christen vriende van ons het gister getrou en Nerina was een van die strooimeisies. Die bruid se ouers is redelik welgestelde Chinese, so dit was 'n grote affêre. Die onthaal was "to-djien" styl waar omtrent 10 gaste om 'n ronde tefeltjie sit en omtrent 10 gange kos aangedra word. Een van die gange was 'n heel gebraaide speenvarkie op 'n spit (per tafel!) en die moet jy dan met stokkies probeer eet. Selfs die troukoek is op die einde met die stokkies geëet.
Daar was hierdie week weer groot opwinding toe sendingkinders van baie oorde af by OMF in Bangkok byeen was vir 'n tuisskool studieweek. Marna het baie moeite gedoen om 'n interessante program te reël met hoogtepunte soos 'n besoek aan die lughawe se beheertoring en Bangkok se befaamde ontdekkingsmuseum.
Gisteraand het militêre leiers van Thailand die land oorgeneem. Die hoof van die weermag, Generaal Sonthi het die parlement ontbind, die konstitusie opgehef en 'n tydelike regering aangestel. Gevolglik was vandag 'n publieke vakansiedag en alle skole, banke en regeringskantore was gesluit. Anders as die vorige staatsgreep in 1991, was hierdie een bloedloos en by baie Thai mense heel welkom, maar daar is nog baie soldate in die strate van Bangkok.
Die Thai mense eet oor die algemeen baie gesond. Hulle het ook olierige piesang fritters (hmmmm..), maar hierdie geroosterde piesangsosaties is 'n baie gewilder teetyd happie. Ander soorte poeding is pampoen, lotus-wortel, soetmielies en 110 soorte jellies.
Die Here was so goed om dit onlangs vir Wilhelm en Sonja De Beer moontlik te maak om vir ons hier in Bangkok te kon kom kuier. Hulle is vriende van Matie dae af. Daar was geëet en gesels en gebak en gebrou en geswem en gebid dat die stof so staan. Dank die Here saam met ons vir die bemoediging.
Marna en die kinders het vandag die tandarts gaan besoek. Dis nou aan die anderkant van 'n stad met 12 miljoen inwoners so dit kos onder meer 'n rit met ons motorkar, dan die ondergrondse trein, dan die lugtrein, dan oorklim op 'n boot, en die laaste stukkie met 'n taxi. Die terugkom is weer 'n ander storie.
Die naam is James - James Steer. Hy is nie 'n geheime agent nie, maar 'n jongman (met 'n PhD in Chemie nogal) wat vir 'n maand kom om ons filmargief te organiseer. Ons prys die Here vir sulke hulp. Dit maak 'n groot verskil.
NS: 'n Filmargief is 'n stowwerige kamertjie waar daar omtrent 800 stelle 36" x 25" transpirantvelle ingeprop is en alke keer as mens 'n boek wil herdruk moet iemand daar ingaan en dan weer uitkom met die regte een.
Ons hou nie van kort opsommings van die Evangelie nie, maar Matthias Media van Australië het een van die beste opsommings wat ons nog gesien het by http://www.matthiasmedia.com.au/2wtl/
Hierdie naweek het Kanok 'n werkswinkel vir Thai Christen outeurs aangebied. Die meeste van die boeke wat ons publiseer is nog uit Engels vertaal en dit was een stap in ons poging om die situasie te verbeter.
Ons moes ongelukkig van Lynn afskeid neem. Maar die Here het voorsien in die toevoeging van "Lukmee", "Or" en "Ben" tot ons span. Die opleiding begin nou weer van voor af, maar ons is opgewonde en dankbaar om sulke oulike Thai Christene tot die span by te kry. Dankie vir almal wat hiervoor help bid het!

"Die Here is Koning vir ewig en altyd." - Psalm 10:16
Dit was goed om saam met "Satchatham" gemeente te kon gaan kamp. Een van die hoogtepunte was toe ons vir Djien kon doop. Marna het al 'n paar maande lank Bybelstudies saam met haar gehou en haar man is 'n mooi gelowige. Die algemene aptyt onder die jong mense na God se Woord was wonderlik om te ervaar.
Die jaarlikse Nasionale Boek Expo is in volle swang hier in Bangkok. Al die Thai Christelike Uitgewers span saam en het 'n stalletjie onder die naam Panyachan "Die Wyse Prediker". Ons moes hierdie jaar die poging reël so dit is 'n besonder besige tyd. Bid asseblief saam met ons vir vrug op hierdie goue geleentheid.
Onalngse nvaosring by Cmabrigde Uinrvesitiet het anagteoon dat 'n mnes maar die lttres van 'n wrood kan opksmmoel soos jy wil slonak die eetrse en ltaase letetr net op die rgete pelk is. Die rdee hievroor is blkyaabr dat die mnes se beirn nie ekle letetr afosnedrilk lees nie, maar 'n hlee wrood op 'n salg.
onegolofilk nê?
Ons moes vandag vir Emma Binder totsiens sê. Sy is 'n Britse dametjie van Singapoer wat vir 'n week vir Marna afgelos het met die tuisskoolonderwys. Die kinders het haar vreeslik baie geniet en sy was 'n groot seën hier in ons huis. Ons prys die Here vir sy voorsiening op hierdie manier!
Groot oomblik in enige ou se lewe: Cobus se fiets se kantwieletjies het vandag afgekom. 'n Paar knievelle ook, maar die man smaaail!
Vanoggend het ons weer met 'n dik walm wierrook en die lawaai van klappers wakker geword. Dit is vandag "Troet Djien" of Chinese nuwejaar en oral was mense besig om die nuwe jaar - die jaar van die hond - met offerandes aan die geeste te verwelkom.